Dr Koos le Roux was vir baie jare ’n mediese dokter. Nadat hy in 1972 afgetree het is hy aangestel as Direkteur Regsmediese dienste. Hierdie posisie het hy beklee tot 1994 toe hy vir ’n tweede keer afgetree het. Oom Koos is al 44 jaar lank getroud met tannie Barbara. Hulle het vyf kinders uit die huwelik asook 17 kleinkinders en een agterkleinkind.
Oom Koos sê dat hy in 1985 ’n geskenkbewys by ’n boek winkel gekry het en toe vir hom daarmee die bekende Dorothy Koreshoff se boek oor bonsai gekoop het. Hy het die boek vir omtrent ’n jaar gelees sonder om werklik te begin met bonsai. Iemand het hom toe vertel van die Pretoria bonsai kai en hy het toe in 1986 aangesluit. Oom Koos sê dat sy persoonlikheid so is dat as hy met enigiets begin hy absoluut voluit daarvoor gaan. Dit het veroorsaak dat hy toe in 1987 as voorsitter gekies is, terwyl hy eintlik geen kennis van bonsai gehad het nie. Hy het toe twee keer per jaar symposiums gehou oor verskeie onderwerpe en dan die kenners oor die land genooi om dit aan te bied. Hy het gesorg dat al die lesings en inligting vooraf deur die kenners verskaf is en dan het hy boekies daarvan gemaak wat by die symposium verkoop is.
Oom Koos se eerste boom was ’n Olienhout. Hy het op ’n stadium die boom vir iemand gegee en weet nie of die boom nog leef nie. Sy eerste bome wat hy uitgegrawe het was sewe Olienhoute wat hy en sy seun by Oudtshoorn in baie rotsagtige gebied uitgegrawe het. Sy vrou en skoondogter moes ses ure lank in die warm kar sit en wag terwyl die bome gegrawe is. Oom Koos se groot liefde is egter saikei en meeste van ons ken sy wonderlike saikei. Oom Koos het hier by die negentig saikei. Hy is ook baie lief vir mooi klippe en tel oral waar hy kom mooi klippe op. Hy het ook ’n mooi versameling suiseki. By die eerste Afrika bonsai konvensie het een van sy seiseki die eerste prys gewen.
Oom Koos werk baie graag met die Lonicera Nitida in sy saikei en deesdae ook met die Kaliforniese vy. Hy sê dat mense glo die Kaliforniese vy ’n Burtt-Davyi is, maar hy is nie seker nie. As bonsai werk hy graag met die Olien, Acacia en Wilde vye. Hy glo nie mens moet ’n te groot verskeidenheid soort bome gebruik nie. As raad aan beginners sê oom Koos dat jy moet begin met bome wat baie maklik is soos die Wilde vye. Jy kan nie fout maak met Vye om mooi bome te kry nie. Leer ook eers bome se behoeftes voordat jy probeer om hulle te gebruik as bonsai.
Van oom Koos se ander belangstellings is fotografie en houtsneewerk. Deesdae maak hy die wonderlikste audiovisuele programme oor veral kunstenaars. Hy het ook al ’n hele paar gemaak oor Bybel verhale.
Oom Koos sê dat hy in die beginjare by die kai wonderlike tye gehad het en baie geleer het saam met mense soos Charles Ceronio, Louis Nel, Theuns Roos, John Lynch, Joyi en Mattie Scheepers, Werner Bub, Alf Jones, Pieter Visagie en nog andere. Oom Koos voel dat hy sy eie smaak en styl in saikei ontwikkel het en tevrede is dat hy nie verder wil vorder nie. Hy beplan om saam met Charles en Tobie Kleynhans te begin om dvd’s te maak oor tegnieke in bonsai en saikei. Oom Koos het al by baie klubs asook konvensies opgetree. Hy het ook ’n stukkie oor saikei geskryf vir Craig Cousins se boek oor bonsai.



