Oom Edwin is ’n man van 81 jaar oud. Hy sê dat hy na die oorlog vir drie jaar geboer het waarna hy ’n melkonderneming in Pretoria begin het. Hierdie onderneming het hy vir 56 jaar gehad totdat hy in 2000 afgetree het. Oom Edwin is al 57 jaar getroud met tannie Louisa.Hulle het 5 kinders uit die huwelik.
Oom Edwin sê dat een van sy tweeling dogters in 1967 eendag by die huis gekom het en vertel het dat hulle die dag by die skool van bonsai geleer het. Wat sy geleer is was om ’n lemoen in die helfte te sny, die binnegoed uit te krap en dan met grond te vul. Dan plant jy ’n klein boompie daarin. Wanneer die boompie se wortels dan deur die lemoen se skil groei sny jy dit net heeltyd af en so maak jy ’n bonsai. Oom Edwin en sy dogter het dit toe gedoen met ’n Privet en dit was wat sy belangstelling in bonsai geprikkel het. Oom Edwin het vandag nog daardie eerste Privet waarmee hy begin het in die lemoen, dit is die een op die foto van hom. Hy het toe in 1973 by die Pretoria bonsai kai aangesluit en is vandag nog lid. In die begin jare by die kai was oom Theuns Roos en Charles Ceronio sy mentors, van wie hy baie geleer het in die kuns.
Hy sê dat die lekker van bonsai is dat jy van jou probleme en spanning vergeet wanneer jy in die aand by die huis kom en tussen jou bome is. Hy het dit veral ervaar terwyl hy nog sy melkonderneming gehad het. Oom Edwin het so 200 bome. Hy het al die top tien en top vyf toekennings by BRAT gekry vir van sy bome. Sy een Olienhout is ook in die begaafde boek “Gold Awarded Penjing of the World” opgeneem. By die onlangse “World Bonsai Friendship Federation” foto kompetisie het ’n Privet van hom ook ’n toekenning gekry.
Oom Edwin sê dat hy al sy bome eweveel geniet en nie ’n gunsteling boom het nie. Hy beoefen ook al die style en laat die boom hom lei na ’n gepaste styl. Hy werk met baie soorte bome maar geniet die Olien en Wilde vye veral. Hy verloor ook nog soms ’n boom. Hy lag lekker as hy sê dat hy al baie braai gehou het met die hout van sy dooie bome.
Ander belangstellings in sy lewe is ou motors. Hy was al lid van die Pretoria Motorklub. Hy het opleiding in meganiese ingenieurswese gehad, vandaar sy belangstelling in enjins en meganika.
Oom Edwin was in die begin jare van die Pretoria bansai kai die sekretaris en was vir baie lank verantwoordelik vir die aankoop van bakke en gereedskap. Hy sê dat dit ’n groot werk was. Eers moes hy vanaf ’n katalogis die bestellings by lede kry, dan vir invoer permitte reël, dan die geld stuur en dan met afwagting wag vir die lewering. Daar was groot opgewondenheid wanneer die bokse afgelewer is en oopgemaak is om te sien hoe als lyk wat bestel is.
Oom Edwin sê dat een van die hoogtepunte in sy bonsai beoefening was om saam met ander lede van die kai ’n konferensie in Los Angelos te kon bywoon. Hy besit ook hier by die 150 bonsai boeke. Hy sê dat hy nog steeds leer van bonsai. Jy kan nooit als leer nie en hy leer by elke vergadering nog iets.



