Pieter du Plessis

Print
PDF

Enige lid wat die kai se vergaderings bywoon sal presies weet wie Pieter is. Hy is nie alleen al die afgelope drie jaar die voorsitter van die kai nie maar is ook een van die lede wat gereeld demonstrasies lewer.

Pieter is al 37 jaar lank getroud met sy vrou Cesilia. Hulle het twee kinders. Hul dogter is ’n staatsadvokaat en hul seun is ’n fotograaf en woon en werk in London. Pieter werk as Fabrieks bestuurder by ’n firma wat ‘phoneshop cubicles’ vervaardig.

Pieter sê dat hy van jongs af bewus was van bonsai aangesien hy oom Theuns Roos geken het. Pieter en sy pa het altyd klein Olienhout boompies wat in hulle tuin opgekom het vir oom Theuns gegee. Pieter het egter eers in 1980 self met bonsai begin nadat sy vrou vir hom Doug Hall se boek “The South African Bonsai Book” as geskenk gegee het. Hy het toe by die Pretoria kai aangesluit en is tot vandag toe ononderbroke lid. Pieter het ook al as ondervoorsitter van die kai gedien.

Pieter kan nie onthou wat sy heel eerste boom was nie maar hy het steeds twee bome, ’n Akasia en ’n Koraalboom, wat hy in 1980 begin het. Die Akasia is die een op die foto. Hierdie Akasia is ook sy gunsteling boom. Hy het die boom vir lank net laat groei sonder om werklik te weet hoe hy hom wou styl. Eendag het hy na die boom sit en kyk en toe hy die twee buitenste takke afbuig het die boom met hom gepraat en hy het toe geweet wat hy met die boom wou maak.

Pieter sê dat hy meer as honderd bome het maar dat hy glo hy nie meer as omtrent vyftien het wat skou gehalte is nie.

Pieter werk graag met die Akasia, wilde Vye, Witstinkhout asook die Olienhout. Hy hou baie van die Pierneef asook die bosveld style, en bogenoemde bome kan hy maklik gebruik om in hierdie style te maak. Pieter sê dat hy in die bosveld groot geword het en om bome in sy versameling te hê wat hom aan die bosveld herinner laat hom voel of hy ’n stukkie bosveld in sy tuin het.

As raad sê Pieter dat wanneer hy Akasia van saad groei sny hy die penwortel na tien dae af. Hy plant dan die boom in ’n groot houer bo-op ’n teël. Die wortels van die boom groei dan horisontaal op die teël voordat hulle op die einde van die teël eers af groei. Later sukkel jy dan nie met ’n boom waarvan al die wortels na onder groei nie.

Behalwe vir bonsai stel Pieter ook belang in fotografie.

Pieter sê om nuwe groei in sy bome te sien inspireer hom en maak hom opgewonde oor sy bome. Hy verloor ook nog so nou en dan ’n boom maar dan is dit meer uit ongeluk as iets anders. Daar is eenmaal ’n boom van hom gesteel wat hy by oom Theuns gekry het en wat een van die bome was wat hy en sy pa jare gelede vir oom Theuns gegee het as saailing. Hy het ook twee baie mooi Akasias verloor toe hy nie gesien het dat sy drup besproeing uit die bome se bakke geval het nie.

Pieter voel dat hy bereik het wat hy wou in die kuns van bonsai en dat hy nou sy bome en die versorging daarvan geniet. Hy sou graag meer belangstelling by die kai wou sien.

Pieter du Plessis Tree Gallery