Kremetart Grondmengsel:
- 2 dele growwe riviersand
- 1 deel kompos
- 1 deel grond (nie klei grond)
- Beenmeel of superfosfaat kan ook bygevoeg word.
Grondmengsel vir saad is dieselfde as bogenoemde sonder die beenmeel en die superfosfaat.
Die belangrikste eienskap van die grond is goeie dreinering.
Snoei van Kremetarte:
Kremetarte het die besonder eienskap dat snoei wonde nie meer sigbaar is na drie groei seisoene nie. Die wonde word geseël met ‘n laag bas oor ‘n periode. ‘n Volwasse Kremetart bonsai het dus geen lelike snoeimerke nie.
Die snoei van takke kan plaasvind regdeur die groeiseisoen. Gewone snoei wonde hoef nie geseël te word nie. Indien dit wel ‘n baie groot tak is wat verwyder is en ‘n groot oppervlakte wat blootgestel is, kan die wond verkieslik geseël word. Snoei van fyngroei van ouer bome kan ook in die winter plaasvind sonder enige nadelige effek op die boom. Let wel: Geen groot takke moet egter gedurende die winter verwyder word nie.
Die eerste snoei van ‘n saailing kan eers plaasvind aan die begin van die tweede groeiseisoen. Die rede hiervoor is dat jong plant kan “wild” groei vir die eerste seisoen sodat die stam kan dik word. Die boompie kan dan stomp gesnoei word op die verlangde hoogte van die stam (‘n kort stam het ‘n kleiner bonsai tot gevolg en ‘n langer stam sal ‘n groter bonsai tot gevolg hê).
Die saailing kan wel gedurende die eerste groeiseisoen gesnoei word, maar dit sal lei tot ‘n stadiger ontwikkeling in dikte van die stam.
Kremetarte moet “wild” gegroei, met ander woorde die wortels moet deur die dreinerings gate van die houer in die grond ingroei vir vinnige ontwikkeling. Hoe meer grond, hoe gouer ontwikkel die boom. Kremetarte in groeipotte moet dus nie op rakke gehou word nie, maar eerder op die grond.
Nadat die hoofraam takke gevorm is kan gereëlde snoei plaasvind om fyngroei te ontwikkel. Let egter op dat fyngroei nie oornag ontwikkel nie maar met gereëlde snoei oor ‘n periode van baie jare.
Die groeivorm van Kremetarte is moeilik om na te boots deur net te snoei (clip-and-grow-method) en dit is dus nodig op een of ander stadium om die boom te bedraad. Die draad moet egter vir ten minste een volle groeiseisoen aanbly vir die takke om hulle posisie te behou. Soms is dit selfs nodig om die draad of anker drade vir nog ‘n ekstra seisoen aan te hou.
Die feit dat Kremetarte gedurende die koue winter maande verkieslik binnenshuis gehou moet word en dat die plant gedurende hierdie periode nie water moet kry nie, maak hulle ‘n baie gesogte bonsai.



